Johannes Adolf Kleinhans I 

Hans was gebore op 2 Februarie 1889, gedoop te Willowmore op 15 September 1889 en is oorlede op 12 September 1972. Was begrawe te Kwagga, Patensie. Hy trou op Steytlerville op 15 Desember 1913 met Elizabeth Getruida Magdalena Jonker. Sy was gebore op 13 Oktober 1893 en was gedoop op 8 April 1894 te Jansenville. Sy is oorlede op 13 Oktober 1969. Bestudeer die stamboom vir sy onmiddellike gesinslede.

Hans was 'n meesterskut – Humansdorp, 1928 (soos vertel deur JAK iii)

'n Medalje gemerk "J.A.K." is verower deur Johannes Adolf Kleinhans (Hans)(f1), eerste in 'n ry van 5 agtereenvolgende naamgenoot-nageslagte .

Hans (f1) was 'n baie goeie skut. Daar was gereeld byeenkomste met .303's as wapen op Humansdorp gehou waar die manne kon meeding in kompetisie-skiet. Dit was onder toesig van die kommando-stelsel van daardie tyd. Jaarliks was daar dan 'n toekenning vir die meesterskut van die jaar. Hierdie medalje was sy bewys van hierdie titel.

Daar word vertel dat die manne na so 'n byeenkoms telkens net sy geweer wil koop, omdat dit dan konsuis so akkuraat is. Hy ruil dan die koper se geweer in en met 'n goeie bybetaling gaan hy huis toe, net om volgende keer hulle weer te klop en die proses weer herhaal word. Hulle kon net nie glo dat dit nie die geweer is nie, maar hy wat 'n goeie skut was. Die staaltjies van die Gamtoosboere van daardie tyd is legio oor sy jagvermoë en vinnige en akkurate skietvermoë. Vir myself, het hy geleer hoe om vinnig te skiet wanneer 'n bok tussen bosse sou hardloop. Hy het gesê hou jou geweer gereed vir optel en aanlê, wanneer die bok verskyn tel jy met jou oog oor die loop en visier die geweer op en wanneer jy hare kry trek jy die sneller. Maklik gesê, maar na baie oefening het ek gevind dat dit werk. Natuurlik is dit makliker met 'n oop visier as met hedendaagse teleskoop-visiere.

As jong kind het ek, sy akkurate vermoë gesien. Eendag wou ouma 'n hoender slag. Oupa gaan haal toe sy "Saloon" (.22 Remington Repeater), gaan sit op die trap voor die agterdeur en kommandeer my om 'n groot Kukuk Hoenderhaan wat al lankal 'n problem geword het aan te keer en oor die plaaswerf te jaag. Toe die haan oop-en-toe oor die werf kom toe klap die skoot en die haan slaan bollomakiesie en spring rond met 'n vermorselde kop. Oupa kon ook gou-gou hom vererg . Op die plaas (Vaalvlei) het hulle grou-katte gehad wat die muise in die veld moes vang en slange sodoende moes weghou. Hulle het behoorlik aangeteel en het 'n oorlas geword. Eendag gaan oupa kamer toe en trap in 'n kat slagyster. Onmiddelik besluit hy hy het genoeg van die katte gehad en binne 'n ommesientjie het hy 22 katte op en rondom die werf geskiet.

Die hout waaruit ek die staandertjie gedraai het, is afkomstig van 'n nieshoutstomp wat gedien het as 'n hoekpaal van die grond van my pa (JAK ii) van Berchtesgaden, Patensie (gedeelte van die plaas Highlands). Hier het Hans ook menige kere iets vir die pot geskiet – nog voordat pa, (JAK ii) eienaar van die grond geword het. Hierdie paal het na skatting daar gestaan sedert die 1800's. Die stomp staan tans by ons te Ash Singel 8, Jeffreysbaai, as posbus-staander in die tuin.

Kontak ons

Indien jy 'n Kleinhans is of aangetroud is tot een, gesels met ons indien u 'n koppeling verlang vanaf hierdie webblad.

johannes@kleinhans.org.za

Template Settings
Select color sample for all parameters
Red Green Blue Gray
Background Color
Text Color
Google Font
Body Font-size
Body Font-family
Scroll to top